‘n Gefragmenteerde identiteit

Deel op
Tim du Plessis skryf in ‘n onlangse rubriek dat hy ‘n “Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaanse (daar is nogal ‘n verskil) en Afrikaan” is. ‘n Ruiterlike erkenning ten minste van die soort gespletenheid waarmee die Nuwe Suid-Afrika ons algar en sommiges in die besonder, opgesaal het.

Dieselfde gevoel van gespletenheid was waarskynlik wat president Zuma verwoord het toe hy verlede week van ‘n “sielkundige” heimat vir Afrikaners gepraat het. Hy het eintlik daarmee sy eie dilemma uitgespel. Ten spyte daarvan dat ‘n Zoeloegebied geografies, taalkundig en etnies afgebaken is, voel ons president nie gemaklik in sy gefragmenteerde werklikheid nie en begryp hy die behoefte aan ‘n tuiste.

Nie eens die beste sitplek op die soustrein waarborg, lyk dit, geborgenheid nie. Die gebrek aan ‘n geïntegreerde identiteit hou blykbaar geen voordeel in gemeet aan die rykdom wat dit genereer nie. Zuma en Tim weet instinktief dat die mense van Orania waarskynlik nie dieselfde sielswroeginge as hulle ervaar nie.

Ten minste kan Zuma na Nkandla terugkeer. Orania is nie ‘n terugkeer na die ou familieplaas, die skaduryke bome van ‘n geboorteplek, ‘n koel stoep van ons kinderdae nie. Dis ‘n vlugtelingkamp vir die Afrikaner, ‘n tehuis vir ontvlugtendes en ontheemdes uit die nuwe bestel. Dis ‘n identiteitsrehabiltasiesentrum, die aankoms by ‘n uitspanplek in ‘n ongenaakbare trek. Dis ‘n groen oase vir voortvlugtiges uit die hemel van die gefragmenteerde identiteite van Tim du Plessis en Jacob Zuma.

Die Oraniërs het daarin geslaag om ‘n identiteitskontinuum te skep waar die verlede, hede en toekoms in ‘n sinvolle verhouding tot mekaar staan, iets wat onontbeerlik vir geesteswelstand en ‘n innerlike balans is.

Die alternatief is waar die kapasiteit van individue om ‘n koherente selfbegrip te vorm, uitbly. En die kliniese prentjie van die “voordele” is nie ‘n sonnige een nie. In plaas daarvan om teenstrydighede te onderdruk sodat mense blywende bindings, verantwoordelikhede en verhoudings kan aangaan, ly die postmodernis aan ‘n gevoel van konstante leegheid.

Sulke mense se impulsiwiteit verhoog omdat hulle in ‘n atemporale toestand verval, met uitbarstings van akute vrolikheid, depressie en geweld wat mekaar sonder waarskuwing opvolg.

Hulle leuse: Die oomblik skep die mens en ons is aan die oomblik uitgelewer. Ons word daagliks met die getuienis van dié gefragmenteerde identiteit in die opiniestukke van groot Afrikaanse dagblaaie getrakteer.

Soos Nietzsche skryf in die Genealogie van Moraal, is “die mens die dier wat beloftes kan maak”. Is die mens wat nie meer beloftes kan maak nie, die dier?

Tim du Plessis is reg as hy suggereer dat Afrikanerstedelinge se uitvlug nie na Orania is nie, maar na Australië omdat hulle ‘n wit voordeel daarin herken dat hulle beter in ‘n Engelse omgewing sal aanpas as wat swartes dit sal regkry. Daarmee ontvlug hulle van die werklikheid van geweld en etniese suiwering sonder om materiële gerief te veel in te boet soos wat die Oraniërs moet doen. Selfwerksaamheid beteken immers sweet.

Dan verseker Tim ons dat hy vir die Nuwe Suid-Afrika sal sterf net soos hy tydens die bosoorlog sou doen, omdat die huidige orde van gefragmenteerde identiteit hom so geval.

Die opgeruimde toon van Tim du Plessis se patriotiese gebaar val vreemd op die oor. Soos dapper soldate wat hulleself vir die oomblik opoffer, in die hoop dat die oomblik sal oorwaai. Hy mag egter gouer as later die geleentheid gegun word om vir Julias Malema se ideale te sneuwel.

модули подготовкиЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.