‘n ‘Droom’-toespraak

EK sit nou die dag hier op my stoep, (ons boere sit maar so op ons stoep as dit so erg reën) en begin toe sommer so dagdroom. Dit is mos lekker om partykeer sommer jou kop so te laat gaan na al die plekke waar jy dalk nooit self sal kom nie. So met die dromery dink ek toe wat ek vir ons mense sou wou sê as ek nou ’n leier was… Dit het so iets gegaan:

***

“Hulle vertel dat daar op ’n keer ’n groep wetenskaplikes was wat na ’n olifant gekyk het. Hulle moes toe daarna die eienskappe van die olifant in volgorde van belangrikheid lys. Tot almal se verbasing was daar nie ’n enkele lys wat ooreengestem het met ’n ander nie…

Ons, net soos die wetenskaplikes, kyk ook vandag na ’n olifant voor ons, en net soos hierdie wetenskaplikes val ons klem ook op verskillende plekke. Vir party van ons is hierdie ’n Geloofstryd, vir ander ’n politieke stryd, sommiges van ons dink die klem val op die media en ander voel ’n ekonomiese model moet die primêre aandag geniet. Dog kyk ons na dieselfde olifant. Wat ons vandag moet besef is dat die persoon langs jou nie ontken dat die olifant ’n soogdier is nie, bloot omdat die klem vir hom op die ivoor lê nie. Net so beteken dit nie dat ek bereid is om die pad te stap sonder my Skepper, bloot omdat ek die of daardie model ondersteun nie.

Vir te lank het hierdie verdeeldheid onder ons, ons gerem om ons volle potensiaal te bereik. Kom ons wees nie so naïef om te dink ons gaan almal anders oortuig om die olifant soos jy te sien nie. Nee, kom ons sien dit eerder as ’n geleentheid om die totaliteit van die olifant te erken deur op verskillende maniere daarna te kyk, mens weet nooit wat sien die ander ou dalk raak nie…

Die enigste verskil tussen ons en daardie wetenskaplikes is dat ons nie net hier is om die olifant te beskryf nie, maar dat ons weet die blerrie ding moet geslag raak!

Wat ek vanaand hier aan u voorhou is nie die enigste manier waarop jy ’n olifant kan slag nie, maar as ek nou een moes slag, is dit hoe ek dit sou doen:

Bates kan altyd vervang word, paaie kan herbou word en drade kan gelas word, maar mense kan nie deur ons weer lewend gemaak word nie. Dames en here, sonder twyfel is een van die sake wat die swaarste op ons harte moet rus, die van plaasmoorde. Dit is duidelik dat die regering van die dag nie belangstel om ons boere se veiligheid te verseker nie, hulle kan skaars die mense langs die polisiestasie beskerm en in heelparty gevalle word die polisiestasie self afgebrand of beroof. Ons is oorgelaat aan ons eie lot.

Realisties gesproke is daar net twee maniere hoe ons hierdie mense, veral die ouer weerlose mense, se veiligheid kan waarborg. Die eerste is om hulle fisies op te pas. ’n Opsie wat baie moeilik uitvoerbaar is om rede ons mense so yl gesaai is. Daar is geen manier hoe ons elke boer op sy plaas, elke uur van die dag kan beskerm nie.

Die tweede opsie is om hulle te onttrek uit die spervuur.

Daar is baie van ons mense wat nie kan assosieer met die konsep van ’n Volkstaat nie en dit is ook nie wat ek vanaand aan u voorstel nie, maar om die waarde van ’n veilige oord vir ons mense te ontken is dwaas. Ek weet baie mense eis die Boere Republieke terug, maar wat van al die lewens wat ons gaan verloor totdat dit die dag realiseer. Hoekom kan ons nie ons verliese verminder deur ’n stuk Volkseiendom aan te skaf in ’n ylbevolkte deel van die land nie? Indien ons ’n aantal aftree-oorde oprig kan ons hierdie mense baie makliker beskerm. Ons skep ’n veilige hawe waar ons getalle en terrein aan ons kant het op privaat eiendom.

’n Volk se integriteit kan gemeet word aan die manier waarop daardie Volk sy ou mense en sy kinders hanteer.

Kom ons staar ons nie blind teen die idee van ’n Volkstaat nie, maar kom ons sien hierdie vir wat dit is- ’n Reddingsaksie. Ons kan letterlik duisende ouer mense uit die pad van geweld haal met hierdie inisiatief. Ons ou mense sukkel om emosioneel aan te pas met alles wat in hierdie land aangaan, sommiges sukkel finansieel en ander is gedurig bekommerd oor hulle veiligheid.

Maar kom ons stop nie daar nie-

Kom ons bou klinieke en mediese geriewe waar ek en u kan heengaan om mediese sorg te ontvang. Baie van ons betaal duisende Rande aan mediese fondse, net om te hoor dit dek nie dit of dat nie. Hoeveel rustiger sal ons nie almal slaap as ons weet daar is ’n hospitaal wat jou gesondheid op die hart sal dra eerder as jou ‘uitgeputte fondse’ nie?”

Kom ons bou ook skole vir ons kinders waar hulle teen ’n waardige standaard opgevoed kan word. Skole wat nie besmet is van dwelms, pornografie en misdaad nie. Skole wat dit hulle werk maak om u kind die beste opvoeding in die wêreld te gee…

Sou ons net dit doen, is ons klaar halfpad na ’n nuwe Volk-tuiste. Met al die voete van die ouer mense, die kinders en hulle ouers skep ons ’n vrugbare geleentheid vir die ontwikkeling van nuwe besighede, of selfs vir bestaande besighede om nog ’n tak oop te maak. Dit is ’n sneeubaleffek wat plaasvind…

Dames en here… Ons Volk hou daarvan om te bou. Ons is goed daarmee om goed op te bou. Hoekom laat ons toe dat menings en opinies in ons pad staan om ’n nuwe begin te maak? ’n Begin wat nie noodwendig gaan ophou by ’n stukkie grond nie, maar wat kan groei, plaas vir plaas, distrik vir distrik, munisipaliteit vir munisipaliteit totdat daar duisende hektare aaneen terug is onder ons bestuur.

Wat met Suid Afrika gaan gebeur, weet niemand van ons verseker nie, maar as dinge aangaan soos dit nou aangaan, kan hierdie regering nie vir altyd voortbestaan nie. Die mense op die straat sal hulle met tyd uit die stoele lig, ’n bloedbad in die strate is nie ’n vergesogte idee nie. Hoekom wil ons dan tussen-in wees?

God help hulle, wat hulle self help. Ons kan nie verwag om net gerieflik terug te sit nie, ons toekoms is in ons hande. Ons moet begin wys of hierdie taal, Volk en kultuur wat aan ons toevertrou is, vir ons enige iets werd is, ons moet begin woeker met ons talente en ophou om dit te begrawe onder tonne argumente en redenasies…

Wat vra ek van u?

Ek vra dat ons elkeen ons gesindheid teenoor ons toekoms moet verander. Kom ons neem deel aan hierdie plan uit liefde vir ons eie, nie uit protes teen hulle nie. Kom ons maak ons saak reg met ons God en loop die pad in nederigheid en verootmoediging met ons Saligmaker, maar ook met liefde en respek vir hulle wat langs ons loop, al verskil ons oor hoe ons die olifant sien…

Kom ons raak opgewonde oor die plan en baseer nie ons gevoel op leiers, organisasies of teorie en argumente nie. Hier is ’n wettige, praktiese, eenvoudige plan wat geen leed aan enige iemand bedoel nie, ’n plan wat eenvoudig ’n tydelike veilige hawe wil skep vir ons mense. Kom ons maak die plan ons eie… Praat daaroor met passie en opwinding met al jou familie, vriende en kollegas. Maak seker dat almal wat jy elke dag raakloop weet hoe vorder die plan. Laat dit in jou mamma-taal soos heuning afdrup… Maak mense om jou deel, kry hulle betrokke en hou hulle betrokke…

Dra by…

Die realiteit is dat so aksie miljoene Rande gaan kos. Kom ons sit Oranje blikkes uit in elke besigheid en plek waar ons mense al hulle sente kan ingooi, kom ons braai wors en verkoop dit op Saterdae om geld in te samel, kom ons kollekteer glas koeldrank bottels en gaan gee hulle in vir geld… Kom ons reël vertonings en opvoerings om geld in te samel. Ek vra u nie om u hardverdiende spaargeld aan ons oor te teken nie, ek vra u net om dit wat u kan bekostig te belê in ’n inisiatief wat u belange op die hart gaan dra. Kom ons maak soos die mossies en bekommer ons nie oor die geld nie, want ’n boer maak ’n plan.

Wat vra ek vanaand nie van u nie?

Ek vra nie dat u deel word van iets onwettigs nie,

Ek vra nie dat u alles opgee om dadelik na hierdie stukkie aarde toe te trek nie,

Ek vra nie vir u om skielik kakie te dra en ’n baard te groei nie,

Ek vra nie dat u die wapen opneem neem nie,

Ek vra nie dat u, u standpunt oor die olifant moet verander nie,

Ek vra nie te veel nie…

Dames en here… Stel u voor hoe moes die Voortrekkers gevoel het op die vooraand van hulle trek. Hulle moes baie agter los, met geen waarborg oor wat voorlê nie, dog het hulle moed gehou en die pad met durf aangepak. In vergelyking hiermee is dit wat ek vanaand vir u vra nie veel nie…

Wat ons egter moet besef is dat dit vyf minute voor twaalf is voor ons volk… Dames en here, die wa is gepak en u moet vanaand kies of u klim of bly… More as die son breek in die Ooste is daar net een ding om te doen…

“Skouer aan die wiel en voorwaarts!”

Ek dank u…

***

Ek dink dit sou my storie gewees het… Miskien sou party mense my neus daaroor wou breek, miskien sou ander iets daarin gesien het waarvan hulle hou…

Wie weet as mens so op jou voorstoep sit en droom terwyl dit reën?

пуско зарядноеФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.